Thursday, August 22, 2013

Indiese hoenderkerrie

 

(8 porsies)

 

Bestandele

 

    2 pakke hoenderporsies

    olyfolie

    2 uie, fyngekap

    3 knoffelhuisies, fyngekap

    15 ml hoendermasala

    30 ml borrie

    4 kardamomsade

    5 ml fyn gemmer

    5 ml fyn koljander

    5 ml fyn vinkel

    2 ster-anys-sade

    10 ml fyn komyn

    5 ml fyn kaneel of 1 heel kaneelstok

    5 ml droë brandrissies

    1 blik gekapte tamatie

    sap van 1 suurlemoen

    1 blik klappermelk

    sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

    hand vol vars koljander, grofgekap

 

 

Instruksies

 

Ek maak gewoonlik eers die hoender in die oond gaar. Verhit jou oond tot 180 °C. Plaas die hoenderstukke in ’n oondbak en gooi ’n bietjie olyfolie oor. Geur met sout en swartpeper. Bak vir sowat 45 minute tot goudbruin. Intussen kan jy met die sous begin - verhit nog ’n bietjie olyfolie in ’n groot oondkastrol. Braai die gekapte uie sag, maar nie bruin nie. Voeg al die speserye (buiten die vars koljander) by die uie en braai vir 1 minuut. Haal die hoender uit die oond en voeg die speserymengsel by. (Moenie die oond afsit nie, want die gereg gaan terug oond toe.) Voeg die suurlemoensap, geblikte tamatie en klappermelk by. Meng versigtig deur en geur met sout en swartpeper. Bedek die kastrol met ’n deksel en plaas terug in die oond. Laat dit vir nog ’n uur en ’n half kook. Kyk elke nou en dan dat die sous nie wegkook nie. As dit gebeur, kan jy ’n bietjie water byvoeg. Voeg die vars koljander by net voor jy die hoender voorsit.

 

Vervang die hoender met lams- of beesvleis vir ’n heerlike vleiskerrie. Jy gebruik die res van die resep net so. Ek gebruik gewoonlik ’n ontbeende lamsboud wat ek in blokkies sny. Vir die beesvleiskerrie gebruik ek sowat 4 kruisskyfstukke (rump steaks), in blokkies sny. Sit voor saam met ingelegde suurlemoen-atjar, komkommer met jogurt, gesnyde piesangs en tamatie-sambal.

Basmatirys is ’n moet saam met dié kerrie.

 

No comments: